Saturday 22 June 2013

Betottled

Betotteld.  Ja betotteld, dit is wat ek is.  Die Afrikaanse spellys ken nie die woord nie, maar ek weet dit is wat ek is.

G'n wonder nie.  Toe ek gebore is, was my ma in haar oorgangsjare, my pa het 'n affêre aangehad met 'n ander vrou en my broer was al 14 jaar oud.  In my regterhand is hoeka die Mongoolse vou, soos wat 'n Downsie het.  My oë is darem gewoonweg ovaal en was groot toe ek jonk was, maar nou met die ouderdom het hulle al begin hang en krimp.   My verstand is darem ook oukei en ek het darem redelik op skool gedoen en ook in my studies daarna.

Wag, terug na die betottelheid.  Kyk, die eerste ding wat ek kan onthou is van daai tyd toe ek nog in my kot geslaap het.   Dit was voor ek twee geword het en voor ons van Kaapstad na Odendaalsrus in die destydse Vrystaat, getrek het.

Die kot storie.  Daar lê ek in my kot.  My ma en pa is in my kamer en my broer loer om die kamerdeur se kosyn.  Daar is egter ook 'n man wat ek glad nie ken nie, in die kamer.  Later sou ek hoor hulle praat van hom as 'n Slams.  Nou, vir die van julle wat nie weet nie, 'n Slams in die vyftigerjare, was 'n Kaapse Maleise man wat kon toor.  Sien die ding werk nou so.  My pa was mos getoor deur die ander vrou met wie hy die affêre gehad het.  Die dat hy mos my ma  met haar verneuk het.  Nou, die Slams in my kamer moet keer dat die affêre-vrou se toorgoed  nie vir my kwaad aandoen nie, en sommer ook om my pa los te maak van die affêre-vrou se  rokpante.

Ewentewel.  Hier staan die Slams toe in my kamer, met 'n hoenderhaan.  'n Pragtige ding met bloedrooi maanhaarvere om sy nek en 'n lyf wat glim van die swartheid.   Die Slams babbel in vreemde tale, sprinkel goeters oor my kot en ruk en pluk aan die haan, en daar skop die haan stokstyf en slaat op die grond neer.  Vir my pa het die haan gehelp, want hy was toe nie meer 'n haan by sy affêre-vrou nie.  En soos ek reeds gesê het, ons trek toe net daarna Odendaalsrus toe.

Maar, my betottelheid is nie oor nie.  O nee!   In Odendaalsrus bly ons eers in 'n huurhuis waarvan die krake in die mure so groot is dat daai yskoue winterwindjie snags deur murg en been sny, en die waterkrane soggens stokstyf toe verys is.  Snaakse plek, die Vrystaat. In die Kaap het die water altyd uit die krane geloop as jy dit oopdraai.

In elk geval.  Ons trek toe later na 'n lekker huis en ek kry sowaar 'n hok met hoenders.  En ja, ook met 'n beneukte haan onder die henne.  As die bleddie haan uit die hok ontsnap het, het hy my niggies altyd aan die hakskene gebyt dat die bloed loop.  My het hy nooit gepik nie, seker omdat ek 'n geskiedenis met 'n hoender het en boonop betotteld is.

Laat ek jou gou 'n storietjie van die einste haan vertel.  Sien, my pa werk mos toe vir AVBOB.  Dit is die naam van die besigheid wat dooie mense begrawe. 

Odendaalsrus se amateur toneelverenging wil toe op 'n keer die grasmatte leen wat mens so om die graf gooi sodat dit mooi lyk en ook sodat die begrafnisgangers darem nou nie so in die stof staan nie, al word die woorde, Van stof is jy gemaak en tot stof sal jy terugkeer, by die graf gesê.  "Nee", sê my pa, hy kan nie die matte vir hulle leen nie.  Dit is mos AVBOB s'n en netnou kom die matte iets oor en dan is my pa in die moeilikheid by hoofkantoor.   Lang storie kort.  Met die dat die kunste diep in ons hele familie se bloed loop, kom my pa toe met die toneelvereniging mense ooreen dat hulle elke aand na die opvoering die matte sal terugbring, sodat dit deur die dag daar by AVBOB is, net vir ingeval een van die base daar aankom.

So gesê, so gemaak.   Die aand na die eerste opvoering van die toneelstuk, is ek en my ma en my pa al in die bed, toe daar aan die agterdeur gehamer word.  Jislaaik, ons skrik ons in ons maai en ek raak sommer nog meer betotteld.  Laat ek net gou eers vir jou die scenario van ons agterplaas skets.

Die AVBOB kantoor en huis is aan mekaar gebou.  Links van die kantoor is die inrit na die agterplaas met 'n reuse sirkel in die middel, sodat die lykswaens kan inry, om die sirkel ry en dan weer uit die agterplaas uit kan ry en die lykstoet na die kerk en die begraafplaas kan lei.  Links agter in die hoek van die erf is die lykshuis.   Regs in die ander hoek is die kistestoor, waar die matte en kiste en kranse gestoor word en die lykswaens parkeer word. Tussen die lykhuis links, en die kistestoor regs, is my hoenderhok.

Wat die arme akteurs nie geweet het nie, is dat wanneer 'n kar se ligte op die hoenderhok val, die hoenderhaan eers sy vlerke so flap-flap, flap-flap, flap-flap, en dan so 'n hees kraai gee.   Met die dat die akteurs laatnag inry en om die sirkel kom, val die bakkie se ligte op die hoenderhok, en teen die tyd dat hulle stop en uitklim, is die hoenderhaan aan die vlerke flap-flap-flap.  Hulle dog natuurlik dit is 'n spook, en sit die stukke in na ons huis se agterdeur.  Met die gehamer aan die agterdeur, skrik my pa hom ook des dinges en amper in die toestand van 'n lyk in. Jy moet weet dit was in die sestigerjare en die opstande begin lekker lewendig word daar in die Vrystaat.  My pa gryp inderhaas sy grys kamerjas en maak die deur oop sonder om die lig aan te sit.  Die arme akteurs skrik hulle byna in 'n koma,  vlieg om terug na die bakkie, want hulle dink die grys ding is nog 'n spook.   Met die dat hulle terug by hulle bakkie kom, is die haan toe net besig met sy hees kraai.

Nodeloos om te sê,  my ma moes die akteurs suikerwater injaag, en ons het lank nadat die matte gebêre is, nog in die vroeë oggendure in ons beddens lê en giggel.

En wragtag, sal daar nie weer vandag, vyftig jaar later, by my betottelde werk, (ek werk by 'n psigiater) 'n pasiënt my so bekyk en sê: "Jy lyk die hoender in.  Ek sien dit in jou oë."  En ek dink so by myself.  Ja, dit is die betottelheid in my wat die ou raaksien.  Het ek dan hoeka nie hoenderpote en snaakse voëls op een van my lapverf artikels geverf nie?

Ten slotte.  Voor die deelname aan die realiteitsprogram, Kokkedoor, was ek betotteld agv 'n hoender in my jeugdae ... en toe word ek 'n KokkeHEN tydens die deelname  ...  nou wonder ek, gaan ek nog eendag 'n KokkeDOOR word?

Ek hoop jy het my skrywe geniet.  Mooi loop.

No comments:

Post a Comment