Poetry

Rou

Ai vandag is weer n stukkende dag – die woord ROU – flenters.
Maar die finaliteit … my kind  is DOOD en hy gaan NOOIT weer in my huis slaap nie!!
Ek het nogal gedink ek is “sterk” na al die maande –
maar ek is swakker as swak en affer as af.
Ek wens ek kan op die hardste wat my stem kan skreeu,
skreeuend op die top van n berg gaan staan en skree
my kind is DOOD-DOOD-DOOD.
Dit voel of my vel af is en my hele liggaam ROU is.
Dit voel of my derms op die grond lê en iemand daarop spring terwyl ek dit kan voel.
Dit voel of my brein verskroei word .
 Ek is stukkender as stukkend en dit voel of ek nooit weer
aanmekaar geplak kan word nie.

En dan is ek so ordentlik om dit nie vir mense te wil sê nie,
want wat maak woorde tog n verskil aan jou gevoel?
Vir wat moet jy hulle ontstel?
Wat het jou gevoel tog regtig te make met ander mense?
Hulle wil tog nie regtig lees wat jy skryf nie.
Jy wil dit ook nie vir iemand sê nie,
want jy wil hulle nie in die verleentheid stel nie.
En tog… almal vra
“Hoe gaan dit REGTIG met jou.”

Ek sê nou vir jou dit GAAN nie.
ek IS net.
Die ou dagboek briefies wat ek skryf is net bestaan goeters…
Asemhaal goeters….. Om die dag om te kry goeters.
My hart klop nie omdat ek wil hê hy moet nie…
Maar omdat hy sy eie ritme het.
Ek haal asem omdat ek n brein het wat bepaal
dat my ribbes en spiere en longe moet saamtrek en ontspan,
maar nie omdat ek wil  nie.

Hoe kan jy regtig lewe wanneer jou binneste op die grond lê ...
Jou hart vergruis is ...
jou brein n warboel van smart en ROU is?
Ek dop nou alles uit, want ek het n kind wat dood is en in ‘n plastiek houertjie opgemaal is
en wat nooit weer kan praat of lag of huil of voel nie.

* * * * *
Ek weet dat ek moet daar wees vir Peter en Sinè.
Ek het gedog ek kan daar wees vir hulle,
maar dit is n uiterste powere poging.
Toneelspel.
‘n Karakter wat ek die afgelope 3 maande gespeel het.
Ongelukkig is die speelvlak nou verby en ek is gedaan.
Ek is net n ma wat haar kind wil hê.
Hoe gaan ek Moedersdag oorleef as ek nou ‘n halwe moeder is?
Ja, ek kry myself vandag jammer, want ek het rede om myself jammer te kry.
My EERSGEBORENE is DOOD.
Vir altyd weg.

Ek praat vandag sodat jy weet dat ek ROU is.
‘n ROUENDE vrou en ek gee ook nie om om dit te sê nie.
Want dit is wat ek is.
Ek is net flenters en ek wil hê die hele wêreld moet dit weet.

Moenie vandag of môre met mooi woordjies en Bybelversies na my kom nie;
ek weet dit alles.
Ek weet alles ... ek het n brein ... ek lees die Bybel... ek bid...
en ek is seker een van die boffins oor die treur proses.
Ek weet God dra my selfs nou terwyl ek hier praat,
maar nogtans is ek stukkend.
Ek wens ek kon soos in die Bybelse tyd in die as gaan sit
en myself toegooi met as.
Wys ek ROU.
Dalk was dit ook  makliker soos in my ma se tyd
om swart te dra tydens die rou proses.
Dan kan almal sien jy is verkool, jy is as, die vlam is geblus.

Emosies en die brein, weet ek, is deel van mekaar.
So weet ek ook dat kennis en inligting n magtige  gereedskapkis is. ....
maar vir n ROU vrou beteken dit niks.
Jy bly net n armsalige vrou met n gat waar haar hart moet wees,
met gate in haar brein waar die emosies beheer moet word,
en met n verstand wat soos verkalkte klippe is.



Die Put van Hartseer 

So rou soos stukke vleis met lewe aan
Het snikke uit my hart gegaan
Die vel was weg –
Hoe kan dit heg?
Hoe maak ‘n mens die hartseer reg?

My vrae is almal opgesny
Antwoorde lê en bloei daarby
Die donker gat,
waar moet ek vat?
My siel lê op ‘n doringmat.

So sag soos wind
met vlerke aan
Kom uit Sy mond my eie naam!
En in my hand wat soek, sak Hy die tou
My God het my selfs hier onthou!



Eduard 5 jaar dood
(Geskryf op 2/10/08)

Raai raai
Ironie (Tv: Lerieke raai)
'n Man wat net soos jy lyk (Adriaan – DNA strings)
Jou ma se lied (Don't worry, be happy)
Jou stem is stil
Jou kitaar is dood
Net soos jy, al 5 jaar
My seun

Niks te raai
My oë met trane besaai (Broken life strings)
My lewe is nie meer ryk (onmoontlik, die happy)
Dit is gevul met verdriet
Alles voel so verniet
My voete voel soos lood
September was jy 25 jaar
My seun

Jou ma.